Die stampe en stote van die lewe

Die lewe van die mens kan moontlik met dié van die vervaardiging van ’n skoen vergelyk word.

Dit word as ’n kuns beskou om leerskoene te vervaardig.

Die lewensiklus van die skoen kan maklik verstaan word, maar aan die ander kant is die mens se lewe baie meer ingewikkeld.

Die skoen se doel is tweeledig: om die mens se voete te beskerm en gemaklik te hou, of om as ’n versiering en modegier gebruik te word.

Sommige skoene is vir spesifieke doeleindes ontwerp, soos stewels wat spesifiek vir bergklim ontwerp is.

Maar skoene het ook net ’n bepaalde leeftyd, net soos die mens en word ook uiteindelik eenkant gegooi nadat dit sy doel gedien het.

Die skoen se lewe begin by ’n dier.

Die vel van die dier lewe en na dit geslag is, word die vel verwerk en gevorm in pragtige skoene wat dan of in ’n kartondoos netjies verpak word of in die winkel se vertoonvensters opeindig.

Net soos sommige mense net die buitekant van die skoen raaksien, maar die proses agter die maak van hierdie skoen miskyk, so word slegs die uiterlike van die mens veroordeel.

Mense sien ook nie noodwendig wat in ons binneste aangaan nie.

Gevul met heimwee, ’n aaklige verlede, dalk ’n mishandelde of verwerpte bestaan, is nie sigbaar nie.

Ons is delikaat deur die hande van ’n Meester gevorm, maar word ook soms, nes ou skoene, op die “ashoop” van die lewe weggegooi.

Net soos die lewensverwagting van ’n skoen, kan die mens ook “gepatch” word.

Leerskoene word sorgvuldig deur leerlooiers, met gespesialiseerde vaardigheid, aanmekaar gesit.

Elke skoen word met groot sorg en moeite gemaak.

Die kuns van skoene maak is indrukwekkend.

Eers word die leer voorberei, wat nogal ’n delikate proses is, want elke stuk leer moet soos ’n legkaart inmekaar gepas word.

Die volgende stap is om elke stukkie leer stap vir stap te behandel.

Hier word ’n mes gebruik om die leer te skaaf voordat die skoene aanmekaar gestik kan word.

Elke klein merkie of naat word versigtig onder ’n vlam gebrand om dit glad te maak.

Die mens het ook maar letsels of merke wat gesond gemaak moet word.

Daarna gebruik handwerkers ’n ponsmasjien om die skag binnekant van die stewel te versier om sodoende vorm aan die skoen te gee.

Net soos die beginproses van leer, word ons ook deur die jare gevorm en gelooi.

Die binnekant van die skoen word selektief aanmekaar gestik en daar word so min as moontlik gom gebruik om buigsaamheid en die asemhaling van die leer te handhaaf.

Hoeveel gom gebruik die mens nie om die “binnekant” vas te gom sodat ons weer buigsaam kan word en ons asemhaling weer normaal word nie?

Sodra die perfekte temperatuur bereik word, word die skoene in ’n oond geplaas om dit volgens ’n bepaalde ontwerp te vorm.

Die oond van die lewe skroei en vorm ook die mens om in sy bepaalde omgewing aan te pas.

Soms word die buitekant van die mens ook met grimering en klere gepoleer om onsself te versorg, net soos leerskoene.

Dit verseker blykbaar ’n langer lewe.

Daar is selfs stappe om te volg wat ou vernielde leerskoene kan opknap sodat dit weer mooi en bruikbaar word.

Maar watter stappe volg ons as mens om onsself op te knap?

Soos tyd aanstap word ons ook verweer wat nie noodwendig verbloem kan word met grimering en mooi klere nie.

Herwinbare skoene soos byvoorbeeld tekkies, beland op die ashoop of by ’n herwinningsaanleg waar dit herwin en verwerk word tot sportbane waarop mense trap.

Net so laat sommige mense toe dat ander hulle vertrap of bo-oor hulle loop.

Dit is moontlik dat dié mense juis hul binnekant verbloem of beskerm.

Maar die binnekant van ’n mens word bepaal hoe gereeld jy jouself versorg en deur ’n gesonde leefstyl te handhaaf.

’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.

  AUTHOR
Anna Robertson
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Shortage of refuse vehicles